Publicaties
Tussen geleentheid en uitdaging. Die Nederlandistiek in Suid-Afrika
0 Reacties
Neerlandistiek
taal

Tussen geleentheid en uitdaging. Die Nederlandistiek in Suid-Afrika

Die lot van die studie van die Nederlandse taal en kultuur is in Suid-Afrika onlosmaaklik verbonde met dié van Afrikaans, wat onder druk staan. Die Nederlandistiek in Suid-Afrika het dus te make met 'n paar uitdagings, maar daar is nog steeds groot potensiaal. Die belangstelling en die samewerking met Vlaandere en Nederland is wel daar, maar dit kan nog altyd uitgebrei word.

Die Nederlandse impak op die geskiedenis van Suid-Afrika is goed bekend en die Nederlandse nalatenskap uit die VOC-tydperk is steeds aanwesig in die hedendaagse Suid-Afrika, byvoorbeeld in dorpsname, soos Amersfoort, Amsterdam, Delft en Gouda en in die name van plase of woongebiede, soos Dalzicht, Meerendal, Fraaie Uitzicht, e.a. Nederlandssprekende besoekers aan Suid-Afrika sal ook ʼn mate van bekendheid hê met wat hulle ervaar as hulle in die land aankom. Die taal sal bekend ‘klink’, maar daar sal tog onduidelikhede in woordeskat en uitspraak wees, net genoeg om te laat blyk dat Afrikaans en Nederlands wel verwant is, maar dat hulle tog aparte tale is. Dit is juis hierdie historiese taal- en kulturele verwantskap – sigbaar in die woordeskat, morfologie en klank- en sinstrukture – wat die lang verbintenis tussen die universitêre Neerlandistiek en Afrikaanse taal- en letterkunde moontlik gemaak het.

Grootliks weens die politieke en kulturele boikot uit Nederland teen Suid-Afrika in die 1970’s en 1980’s is die vroeëre hegte verbintenis tussen die lande opgeskort. Teen die 1990’s is daar begin om verhoudinge te herstel en vandag is bande tussen Suid-Afrika en die Lae Lande (Nederland en België) goed genormaliseer. Die kulturele uitwisseling tussen die lande is helaas nie meer so sterk soos in die verlede nie, en dit kan in die toekoms nog losser raak. Maar totdat dit gebeur, is die bande steeds duidelik en sigbaar.

Daar is tans weer ʼn vrye vloei van studente en dosente tussen Suid-Afrika en die Lae Lande en die tradisie van studietydperke deur SA studente aan Lae Landse universiteite, wat langer as ʼn eeu reeds bestaan, word vandag steeds voortgesit. Talle bekende Suid-Afrikaners het oor jare hul studie aan Nederlandstalige universiteite afgerond. Die talle uitruil- en samewerkingsooreenkomste tussen instellings in die drie lande Is tekenend hiervan. Nederlands en Nederland is dus nog lank nie losgemaak van Suid-Afrika nie.

Die belangstellende Nederlandse leser kan moontlik vra hoe dit deesdae met die Neerlandistiek in Suid-Afrika gaan. Is daar groei of is daar krimping? Waarmee is die mense (dosente en studente) tans besig? Watter uitdagings ervaar hulle? Wat is die toekomspotensiaal van Nederlands?

’n Beperkte aanbod

Die situasie rakende die bestudering van Nederlands aan Suid-Afrikaanse universiteite is in 2020 radikaal anders in die 1970’s en 1980’s. Toe is slegs Nederlandse letterkunde bestudeer (daar was geen taalverwerwingskursusse nie), en dit was ten minste 40% of 50% van die letterkunde-aanbod in Afrikaanse leerplanne. ’n Leeskennis van Nederlands is as vanselfsprekend aanvaar, omdat Nederlandse kortverhale en romans deel van die destydse skoolkurrikulum was. Departemente se name was toe nog Afrikaans/Nederlands of Afrikaans en Nederlands.

Op skool sowel as universiteitsvlak het Nederlands het toenemend by grasie van Afrikaans ʼn plekkie in die kurrikulum gehad via voorgeskrewe boeke. Op skool was Ciske de Rat jarelank ʼn gunsteling, maar ook romans soos De Vlaschaard, en versamelings met geselekteerde Nederlandse gedigte en kortverhale was ook populêr. Op universiteit was daar ’n groot aanbod aan romans, gedigte en dramas en in die vierde studiejaar was Middelnederlandse letterkunde selfs verplig by baie universiteite. Nederlands was dus nog aan ʼn ouer geslag bekend, weliswaar as ʼn taal iets anders as Afrikaans, maar tog verstaanbaar.

Vandag is daar ’n beperkte Nederlandse letterkunde-aanbod in die leerplanne van Suider-Afrikaanse universiteite waar Afrikaans (en soms ook Nederlands) nog as ʼn vak aangebied word: aan die universiteite van Kaapstad (UK), Wes-Kaapland (UWK), Stellenbosch (US), Rhodes, Vrystaat (UFS), die Noordwes-Universiteit (NWU) en Namibië (UNAM). Met die groei van Afrikaans het die Nederlandse komponent sedert veral 1994 beduidend verskraal. By Unisa (die grootse universiteit in die land) is die Nederlandse letterkunde-aanbod byvoorbeeld uit die kurrikulum gehaal, so ook by die Universiteit van Pretoria (UP). Aan min universiteite is daar alleenstaande Nederlandse kursusse – dit word geïntegreer in die bestaande kursusse Afrikaanse taal- en letterkunde waar dit dikwels vergelykend aan bod kom.

Ook is die kundigheid wat daar in die 1970’s nog was betreffende die Nederlandse letterkunde, nie werklik meer daar nie. Die geslag dosente wat nog in die Lae Lande studeer en daar hulle kundigheid verwerf het, is vandag afgetree. Hulle is ook nie noodwendig deur ooreenstemmende kundigheid vervang nie omdat poste aan departemente Afrikaans afgeskaal is en oorwegend die aanbod van Nederlandse kursusse hierdeur geraak is. Universiteite soos UK, UWK, US, Rhodes en NWU maak daarom toenemend staat op Nederlandse gasdosente om die gapings in plaaslike kundigheid te vul. Die grootste rede hiervoor is die groei en selfstandigwording van die Afrikaanse letterkunde sedert die 1980’s, die druk op dekolonisering sedert die begin van die 2000’s (die verlede moet dus anders beoordeel word as vroeër) en die gevolglike groter aandrang om meer Afrika-gerig in opleiding te wees.

Verblydend is wel die groei in Nederlandse taalverwerwingskursusse, veral by UFS, NWU en UP. Die groeipotensiaal hier is groot, ook betreffende studente wat nie Afrikaans as vak neem nie. ’n Nuwe projek van die SAVN (SA Vereniging vir Neerlandistiek) is juis om jonger dosente touwys te maak betreffende Nederlands en om grondige opleiding te begin verskaf aan hierdie dosente.

Uit die oorsig hierbo is daar ʼn belangrike stuk taalwerklikheid, naamlik dat die twee tale mekaar ‘nodig’ het vir hul onderlinge bestaan in die betrokke lande. In Suid-Afrika is daar ruimte vir Nederlands via Afrikaans en in die Lae Lande is daar weer geleenthede vir Afrikaans via Nederlands. Dit geskied hoofsaaklik via universitêre studie van die tale. In hierdie proses het Afrikaans met verloop van tyd via Nederlands deel geword van die wêreld van die internasionale Neerlandistiek en dié vakgebied is goed gevestig aan die voormalige Afrikaanse universiteite. Deesdae weliswaar minder goed as wat vroeër jare die geval was.

Gelukkig is daar ook besondere instansies wat daartoe meehelp om die tale lewendig te hou in die onderskeie lande, soos SASNeV (SA Sentrum vir Nederland en Vlaandere, gesitueer in Pinelands, Kaapstad) in Suid-Afrika (as sigbare boegbeeld vir Nederlands) asook die SAVN en aan die ander kant die Stichting Zuid-Afrika-huis in Nederland en die ‘Gents Centrum voor het Afrikaans en de studie van Zuid-Afrika’ (opgerig in 2011) aan die Universiteit Gent as sigbare simbole van Afrikaans in die Lae Lande, gevestig in Amsterdam). Uiteraard is daar ook ander instansies wat hierby betrokke is, soos rolle speel. Daar is ook wedersydse kulturele samewerking tussen organisasies in die lande, soos die Van Ewijck-Stigting, die Marnix-ring, die Orde van den Prince, die Vlaams-Zuid-Afrikaanse Cultuurvereniging (VZAV) en die Algemeen Nederlands Verbond (ANV).

Verblydend is wel die groei in Nederlandse taalverwerwings-kursusse

Objektief beoordeel is dit duidelik dat wat die studie van die vak en die taal betref daar ʼn afnemende belangstelling in die Neerlandistiek in Suid-Afrika is: minder studente, minder dosente, minder geleenthede (weens beperkte befondsing). Die inkrimping raak veral die letterkunde en dit vind ons persoonlik baie jammer. Dit was vir ons almal ’n verrykende ervaring om kennis te maak met die Middelnederlandse, die 17de-eeuse en die moderne Nederlandse letterkunde. Hierdie volledige aanbod is nêrens meer beskikbaar nie.

Aan die ander kant is daar weer groei te bespeur: die vergelykende taalkunde open horisonne vir taalkundiges en die nuwe belangstelling in die verwerwing van die Nederlandse taal is verblydend. Die beoogde gas-leerstoel Nederlands (beklee deur gasdosente, soos die leerstoel in Afrikaans aan die Universiteit Gent) sal stimulerend wees vir die bestudering van die letterkunde en moontlik selfs die taalkunde. Of dit alles op die lang termyn volhoubaar gaan wees, is ’n goeie vraag.

ʼn Gesonde belangstelling

Uit terugvoer van dosente aan die onderskeie universiteite in Suid-Afrika blyk daar steeds ʼn gesonde belangstelling in die bestudering van Nederlands as akademiese terrein te wees (soos blyk uit nagraadse skripsies, verhandelinge, en proefskrifte van studente asook uit artikels in publikasies soos die Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans, Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Tydskrif vir Letterkunde, Literator, Stilet, Werkwinkel, LitNet Akademies, ens.), maar dit kom voor asof daar op twee vlakke ʼn klemverskuiwing gekom het.

Aan die een kant na ʼn meer vergelykende benadering rakende temas uit die Afrikaanse en Nederlandse taal- en letterkunde en aan die kant weer ʼn samewerkende benadering tussen Nederlandssprekende en Afrikaanse akademici rakende die uitvoer van projekte op beide taal- en letterkundeterreine. Samewerking op hierdie vlak kom in verskeie vorme voor, soos institusionele ooreenkomste tussen universiteite in Suid-Afrika en in die Lae Lande (sien hier onder), wetenskaplike samewerking tussen navorsers in hierdie lande en tussen wetenskaplike liggame.

Die Taalunie en die Afrikataalraad het byvoorbeeld in Januarie 2020 ’n ooreenkoms onderteken om Nederlands en Afrikaans te bevorder. Die Taalunie en die ATR streef elk na samewerking en uitruil van kennis op die gebied van taaltegnologie, taalinfrastruktuur, taalkennis, taalkultuur, taalbeleid in meertalige kontekste en Nederlands en Afrikaans as opvoedkundige vakke en in akademiese programme.

Oor die jare is daar talle projekte suksesvol aangepak én deurgevoer, soos die skakeling tussen die Meertens Instituut se Taalportaal en die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns wat uiteindelik gelei het tot die totstandkoming van VivA (die Virtuele Instituut vir Afrikaans – VivA), die vestiging van die Digitale Bibliografie van die Afrikaanse taalkunde (DBAT) (die resultaat van ʼn proses van samewerking en koördinering met die vroeëre BNTL en die huidige DBNL) en ʼn veeltalige teksredaksieprojek tussen navorsers van die Universiteit van Antwerpen en die NWU in Suid-Afrika.

Die druk op Afrikaans aan universiteite in Suid-Afrika gaan ongetwyfeld ʼn impak hê op die posisie van Nederlands in Suid-Afrika

Van die huidige taalkundeprojekte is samewerking met die Instituut voor de Nederlandse Taal (INT) aan woordeboekprojekte, die bou van ’n gesamentlike historiese korpus vir beide Afrikaans en Nederlands (met die hulp van die Meertens Instituut, VivA, SADILaR, Zuid-Afrika-Huis), saamwerk aan akademiese geletterdheid (Groningen, Radboud, Tilburg) asook die ontwikkeling van ʼn aanlyn skryfhulp tussen die Institituut voor Levende Talen in Leuven, die NWU, UP en US. Werk is ook aan die gang om ʼn omvattende Digitale Biblioteek van Afrikaans tot stand te bring – met die steun van DBNL, VivA, SADILaR en Zuid-Afrika-Huis.

Die bogenoemde word alles moontlik gemaak deur die sluit van verskeie institusionele ooreenkomste tussen universiteite in Suid-Afrika en die Lae Lande, byvoorbeeld tussen die US en Leiden, die UWK en Gent, die NWU en Antwerpen en Gent. Studente en dosente baat enorm hierby en verskeie publikasies (boeke, artikels) was reeds die vrug van hierdie samewerking. Ook die doseer van die twee tale in die betrokke lande word hierdeur versterk.

Samewerking tussen individuele navorsers en hulle nagraadse studente in beide die Lae Lande en Suid-Afrika is eweneens ʼn goed gevestigde gebruik met gedeelde publikasies en navorsingsprojekte as gevolg.

#AfrikaansMustFall

Die Neerlandistiek in Suid-Afrika het beslis ʼn paar uitdagings om te trotseer. Dit raak die politiek van die land, die beskikbare finansiering en ook die voortgesette belangstelling in die vak.

Heelwat van die probleme is as gevolg van die huidige politieke klimaat en die tersiêre omgewing waarin ons in Suid-Afrika werk. Die druk op Afrikaans aan universiteite in Suid-Afrika gaan ongetwyfeld ʼn impak hê op die posisie van Nederlands in Suid-Afrika.

Afrikaans het sedert 2015 (wat as ʼn annus horribilis vir Afrikaans beskryf kan word) as onderrigtaal by twee voormalige Afrikaansmedium-universiteite – die Universiteit van die Vrystaat (UV/UFS) in Bloemfontein en die Universiteit van Pretoria (UP) – verdwyn asook by die grootse universiteit in Suid-Afrika, die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA). Aan die Universiteit van Stellenbosch (US) het Afrikaans se rol in 2016 verander van onderrigtaal tot taal wat ‘ondersteun’ word in onderrig. Op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit het Afrikaans nog ʼn houvas, maar vir hoe lank nog is onseker.

Afrikaans het dikwels die doelbewuste teiken van politiek-gedrewe veldtogte geword

Die invloed van verskeie politiek-gedrewe veldtogte deur SA studente sedert 2014 en oproepe tot dekolonialisering het hierin ʼn groot rol gespeel. Afrikaans het dikwels die doelbewuste teiken van die veldtogte geword. Die fel en soms selfs gewelddadige #AfrikaansMustFall-beweging het groot (beeld)skade aangerig. Eerstens aan Afrikaans as universitêre vakgebied, maar indirek ook aan Nederlands.

Dit het vanselfsprekend ʼn impak gehad op studente- en dosentegetalle vir kursusse in Afrikaans en dit sal op die lang termyn onvermydelik ook die samestelling van leerplanne van kursusse raak. En mettertyd ook die aantal studente wat voor- en nagraads aanmeld vir die studie van en oor Nederlands. Nederlands se posisie as koloniale taal kan selfs meehelp dat Nederlands as vak (weens assosiasie met Afrikaans) onder skoot kan kom. Niks is helaas onmoontlik in hedendaagse Suid-Afrika nie.

ʼn Besondere uitdaging is die krimpende begroting by universiteite in Suid-Afrika. (Dit geld ook universiteite in die Lae Lande.) Dosente is oorlaai, en moet beide Afrikaans en Nederlands doseer. Die hande om die te veel werk te doen, word minder en dit het ʼn impak op spesialiteitsterreine, soos Nederlands, wat mettertyd laat vaar word ter wille van oorlewing om in die stelsel te bly.

Dit is weliswaar moeilik om die fondse te bekom, maar dit is tog haalbaar

Die verdere uitdagings wat navorsers (studente asook dosente) ervaar, is waarskynlik ooreenstemmend met wat elders in die wêreld rakende Neerlandistiek die geval is. Die gebrek aan (voldoende) befondsing om sodanige navorsing te kan finansier, dra naamlik daartoe by dat die belangstellende potensiële navorsers eerder ander opsies oorweeg. In die geval van studente word selfs ander loopbaanopsies oorweeg, soos taalpraktisyns, die uitgewerswese, e.s.m. En dit lei verder daartoe dat die poel navorsers al hoe kleiner word.

Daar is ook tot ʼn mate ʼn gebrek aan belangstelling in Nederlands omdat Nederlands al hoe meer ʼn onbekende taal in Suid-Afrika word, maar dit kan maklik verander indien entoesiastiese, jonger dosente gevind kan word om die spreekwoordelike stokkie by die ouer geslag oor te neem. Tog is daar jong nagraadse studente wat ʼn deel van hulle meestergraad- of doktorale studie in Nederland en België voltooi en sodoende die Europese sfeer en tradisie deel van hulle eie mondering maak.

Danksy ondersteuning en welwillendheid van die Nederlandse Taalunie, en ook ander internasionale ooreenkomste tussen universiteite en beskikbare beursskemas is dit wel moontlik om hierdie roete te volg. Dit is verblydend dat fondse beskikbaar is by ʼn aantal instansies vir nagraadse studiebeurse, soos die NTU, die Stichting Neerlandia, die Studiefonds Nederlands, en ook by die navorsingsliggame in die betrokke lande. Navorsers het toegang tot befondsing via hulle eie instansies, navorsingsliggame soos die NRF (Suid-Afrika) en die NWO (Lae Lande), die Fonds Neerlandistiek (vir publikasies), die Van Ewijckstigting in Suid-Afrika. Dit is weliswaar moeilik om die fondse te bekom, maar dit is tog haalbaar. Dosente en ook nagraadse studente moet daarom gewoon die kanse wat tans bestaan, benut.

Die komende SAVN-kongres in Windhoek, Namibië (5-9 Julie 2020) is ook ʼn gulde geleentheid om belangstelling in die Neerlandistiek weer ʼn hupstoot te gee.

ʼn Mens moet hier ook miskien ietwat anders na die probleem (uitdagings ten opsigte van die Neerlandistiek in Suid-Afrika) kyk, en eerder die klem laat val op hoe samewerking tussen instansies (en individue) in die betrokke lande uitgebrei kan word en hoe dit wat reeds bestaan, verbeter kan word. Dan word gebou vanaf bestaande bande.

Wat is die toekomspotensiaal?

Hier bo is uitgespel dat druk op Afrikaans ook die aanbied en aanbod van Nederlands op die lang termyn kan raak. Die universitêre Neerlandistiek bly dus gekoppel aan wat met Afrikaans sal gebeur en daaroor is daar geen sekerheid in ʼn politiek-oorbewuste Suid-Afrika nie. Dit is wel belangrik dat nie gewag moet word totdat die prentjie eendag duidelik is nie, want dan word momentum verloor.

Planne moet dus gemaak én uitgevoer word, soos met die beplande leerstoel Nederlands in Suid-Afrika, die ontwikkel van Nederlandse aanlyn kursusse vir die publiek, studente en belangstellendes uit ander vakgebiede, die beskikbaarstel van kundigheid deur Nederlandse instansies en ook van befondsing vir samewerkende projekte, die sluit van samewerkings- en uitruilooreenkomste, ens.

Ongeag druk op Afrikaans word die Neerlandistiek in Suid-Afrika steeds lewendig gehou

Verder moet Suid-Afrikaanse Neerlandici volhou om deel te hê aan die wêreld van internasionale Neerlandistiek (soos met internasionale kongresse van die SAVN, IVN, AANS [American Association of Netherlandic Studies]), die bywoon van opskerpgeleenthede (soos Nederlandse taalverwerwingskursusse deur die NTU), die saamwerk aan internasionale projekte met medewerkers uit die Nederlandse taalgebied (deel studieleiding, skryf saam boeke en artikels). Internasionale kongresse (soos die driejaarlikse IVN-kollokwium) word goed bygewoon en dit skep bewuswording van die Suid-Afrikaanse Neerlandistiek. Akademici uit Pole, Duitsland, Rusland, Oostenryk, die VSA en Indonesië besoek Suid-Afrika of het seremoniële aanstellings aan Suid-Afrikaanse universiteite. Daarmee moet volgehou word. Die omgekeerde geld ook talle Afrikaanse akademici. Die moontlikhede hiervoor is daar en dit moet ontgin word. Dit is iets wat nie vanself gaan gebeur nie, want dit is ʼn aktiewe selfgedrewe proses deur individue.

Diegene wat in die Neerlandistiek in Suid-Afrika betrokke is, moet hulself via die bestaande kommunikasie- en inligtingkanale op hoogte van sake rakende ontwikkelinge in die Neerlandistiek hou. So dra die digitale omgewing by tot goeie skakeling tussen die Afrikaanse en Nederlandse wêreld. Die webblaaie www.voertaal.nu en www.litnet.co.za dien om inligting oor Afrikaanse en Nederlandse publikasies en aktiwiteite maklik en vinnig te versprei. Die IVN se gereelde e-nuusbrief en webwerf help verder in hierdie verband.

As dit alles die nodige aandag kry, is daar groot groeipotensiaal vir die Neerlandistiek in Suid-Afrika.

ʼn Lansie vir Nederlands bly breek

Ongeag druk op Afrikaans word die Neerlandistiek in Suid-Afrika steeds lewendig gehou deur die aktiewe bydraes van individue en instansies. Dit is belangrik vir die toekoms van die Neerlandistiek in Suid-Afrika dat hiermee volgehou word. Dit blyk ook dat daar ʼn nuwe, lewendige belangstelling te bespeur is in kontrastiewe taalkunde en dit moet aangemoedig word. Die fokus het dus merkbaar verskuif om naas die letterkunde ook die taalkunde in te sluit. As Afrikaanse taalkundiges verwelkom ons hierdie nuwe energie. Ons is dankbaar dat letterkundekollegas dwarsdeur die moeilike boikotjare die Nederlandse vlammetjie laat brand het en dit ook nog steeds doen. Ook in die toekoms sal ons saam in ons onderskeie departemente ʼn lansie vir Nederlands bly breek.

Lees hier de Nederlandse versie.

Aanmelden

Registreer je of meld je aan om een artikel te lezen of te kopen.

Sorry

Je bezoekt deze website via een openbaar account.
Je kunt alle artikelen lezen, maar geen producten kopen.

Belangrijk om weten


Bij aankoop van een abonnement geef je toestemming voor een automatische herabonnering. Je kunt dit op elk moment stopzetten door contact op te nemen met philippe.vanwalleghem@onserfdeel.be.